The danger of a single story | Chimamanda Ngozi Adichie
Articles

The danger of a single story | Chimamanda Ngozi Adichie



Translator: Ingrid Lezar
Reviewer: Christo Crafford Ek is ’n storieverteller. Ek wil julle ’n paar
persoonlike stories vertel oor "die gevaar van die enkele storie". Ek't op ’n universiteitskampus
in oos-Nigerië grootgeword. My ma sê ek't op twee begin lees, alhoewel ek dink vier
nader aan die waarheid is. So ek was ’n vroeë leser en ek't Britse en
Amerikaanse kinderboeke gelees. Ek was ook ’n vroeë skrywer. Toe ek begin skryf,
op omtrent sewe, stories in potlood met krytillustrasies, wat my arme ma móés lees, skryf ek presies die tipe stories
wat ek gelees het: Al my karakters was wit met blou oë, hulle't in die sneeu gespeel, hulle't appels geëet (Gelag) en hulle't baie oor die weer gepraat, hoe lieflik dit was,
dat die son uitgekom het. (Gelag) Ondanks die feit
dat ek in Nigerië gewoon het. Ek was toe nog nooit buite Nigerië nie. Ons't niks sneeu gehad nie, ons het mangoes geëet, en ons't nooit oor die weer gepraat nie, want dit was onnodig. My karakters het ook
baie gemmerbier gedrink, want die karakters in die Britse boeke
het gemmerbier gedrink. Ongeag dat ek g'n benul
van gemmerbier gehad het nie. (Gelag) En vir baie jare daarna sou ek ’n brandende begeerte hê
om gemmerbier te proe. Maar dis ’n ander storie. Wat hierdie wys, dink ek, is hoe ontvanklik en vatbaar ons is met ’n storie voor oë, veral as kinders. Omdat ek nét boeke gelees het
waarin karakters anders was, was ek oortuig dat boeke vanselfsprekend
vreemdelinge moes in hê en oor dinge moes gaan
waarmee ek nie kon identifiseer nie. Dinge het verander
toe ek Afrikaboeke ontdek het. Daar was nie veel beskikbaar nie en hulle was nie so verkrygbaar
soos die buitelandse boeke nie. Maar dank skrywers
soos Chinua Achebe en Camara Laye, het ek ’n sielsverskuiwing
in my begrip van letterkunde beleef. Ek het besef dat mense soos ek, meisies met vel die kleur van sjokolade, wat se kroes hare
nie kon poniesterte maak nie, ook in literatuur kon bestaan. Ek't oor vertroude dinge begin skryf. Ek was wel versot op
die Amerikaanse en Britse boeke. Hulle't my verbeelding aangegryp,
vir my nuwe wêrelde oopgemaak. Maar die gevolg was per abuis dat ek nie geweet het mense soos ek kon in literatuur bestaan nie. So die ontdekking van Afrikaskrywers het my gered van 'n enkele storie hê
oor wat boeke in wese is. Ek was uit ’n gewone,
middelklas Nigeriese gesin. My pa was ’n professor. My ma was ’n administratiewe beampte. En, soos die norm was, het ons inwoon-huishulpe gehad,
wat van nabye dorpies af gekom het. Die jaar wat ek agt geword het,
het ons ’n nuwe huisknaap gekry. Sy naam was Fide. My ma het ons net een ding oor hom vertel:
sy familie was baie arm. My ma het jamswortels en rys
en ons ou klere na sy familie toe gestuur. As ek nie my aandete opgeëet het nie,
sou sy sê: "Eet jou kos! Weet jy dan nie?
Mense soos Fide se familie het niks nie." So ek was baie jammer vir Fide se familie. Toe een Saterdag
gaan ons na sy dorpie op besoek, en sy ma wys vir ons
’n pragtige gepatroonde mandjie gemaak van gekleurde raffia,
wat sy broer gemaak het. Ek was verbaas. Ek't nie besef dat iemand in sy familie sowaar iets kon máák nie. Al wat ek van hulle gehoor het,
was hoe arm hulle was, sodat dit vir my onmoontlik geword het
om hulle as enigiets buiten arm te sien. Hulle armoede
was my enkele storie oor hulle. Ek't later hieroor gedink
toe ek weg is uit Nigerië om universiteit toe te gaan in die VSA. Ek was 19. My Amerikaanse kamermaat is deur my geskok. Sy't my gevra waar ek so goed
Engels leer praat het en was verward toe ek sê dat Engels toevallig genoeg
die amptelike taal van Nigerië is. Sy't gevra om na
my "tribal music" te luister en was gevolglik baie teleurgesteld toe ek my Mariah Carey-kasset uithaal. (Gelag) Sy't aangeneem dat ek nie weet
hoe om ’n stoof te gebruik nie. Dít het my getref: Sy't my al bejammer
nog voor sy my gesien het. Haar verstekposisie teenoor my,
as ’n Afrikaan, was ’n soort neerbuigende,
goed-bedoelde jammerhartigheid. My kamermaat het
’n enkele Afrikastorie gehad: ’n enkele storie oor katastrofe. In dié enkele storie kon Afrikane geensins soos sy wees nie, was daar geen gevoelens
meer kompleks as bejammering nie en geen moontlikheid van ’n verbinding
as gelyke mense nie. Voor ek VSA toe is, het ek nie bewustelik geïdentifiseer
as ’n Afrikaan nie. Maar as Afrika ter sprake was,
het almal na my gekyk. Ondanks dat ek niks geweet het
oor plekke soos Namibië nie. Ek't op die ou end
dié nuwe identiteit aangeneem, en op baie maniere
dink ek nou aan myself as Afrikaan. Dit ontstem my wel steeds
wanneer Afrika as ’n land beskou word, die mees onlangse voorbeeld
was op my andersins wonderlike vlug, vanaf Lagos twee dae gelede, met die Virgin-aankondiging
oor hulle liefdadigheidswerk in "Indië, Afrika en ander lande". (Gelag) So na ek ’n paar jaar in die VSA
as ’n Afrikaan spandeer het, het ek my kamermaat se reaksie
teenoor my begin verstaan. As ek nie in Nigerië grootgeword het nie, en as my Afrikakennis
uit alledaagse beelde gekom het, sou ek ook dink dat Afrika ’n plek
van pragtige landskappe, mooi diere, en onverstaanbare mense is, aan't oorlogvoer,
sterwend van armoede of VIGS, nie in staat daartoe
om vir hulleself te praat nie en wagtend om verlossing
deur ’n gawe, wit vreemdeling. Ek sou Afrikane sien
net soos ek, as kind, Fide se familie gesien het. Dié enkele storie oor Afrika
kom uit Westerse literatuur. Hier's ’n aanhaling uit die skrywe
van ’n Londonse handelaar, John Lok, wat in 1561 na Wes-Afrika geseil het en ’n boeiende reisverslag gehou het. Nadat hy na die swart Afrikane
as "gediertes sonder huise," verwys, skryf hy: "Hulle is mense sonder koppe, met hul monde en oë in hulle borste." Ek lag elke keer wat ek dit lees. En ’n mens moet sy verbeelding bewonder. Maar belangrik is dat sy skryfwerk die begin van ’n verteltradisie van Afrikastories
in die Weste verteenwoordig: ’n Tradisie van sub-Sahara-Afrika
as ’n plek van negatiewes, van andersheid, van donkerte, van mense wat, in die woorde van
die wonderlike digter, Rudyard Kipling, "halfduiwel, halfkind" is. En so't ek begin besef
dat my Amerikaanse kamermaat haar hele lewe lank verskillende weergawes van hierdie
enkele storie moes gesien en gehoor het. So ook ’n professor,
wat op ’n keer vir my gesê het dat my roman nie "eg aan Afrika" is nie. Ek was bereid om aan te voer dat daar heelwat dinge
met die roman verkeerd was, dat dit op vele punte misluk het, maar ek het nie kon droom dat dit die kastige "eg aan Afrika" paal
nie gehaal het nie. Ek het inderwaarheid nie geweet
wat Afrika-egtheid was nie. Die professor het my meegedeel
dat my karakters te veel soos hy was, ’n opgevoede, middelklas man. My karakters het motors bestuur. Hulle't nie van honger vergaan nie. Gevolglik was hulle nie eg aan Afrika nie. Maar ek moet byvoeg dat ek net so skuldig is
aan die enkele storie kwessie. Ek't ’n paar jaar gelede Meksiko besoek
uit die VSA. Die politieke klimaat in die VSA
was gespanne, en debatte oor immigrasie het geheers. En, soos dit baie in Amerika gebeur, het immigrasie
sinoniem met Meksikane geword. Daar was eindelose stories oor Meksikane wat die gesondheidstelsel kaal uittrek, oor die grens sluip, by die grens gearresteer word,
daai soort ding. Ek't op my eerste dag
in Guadalajara rondgeloop, gekyk hoe die mense werk toe gaan, by die markplein hulle tortillas oprol, aan't rook en lag. Ek onthou dat ek eers effens verras was. En toe was ek van skaamte oorkom. Ek't besef dat ek so verdiep was
in die mediadekking oor Meksikane dat hulle een ding in my kop geword het: die ellendige immigrant. Ek't geval vir die enkele storie oor Meksikane en ek kon nie méér skaam kry nie. So dis hoe om ’n enkele storie te skep, ’n volk te wys as een ding, slegs een ding, oor en oor, en dis wat hulle dan word. Dis onmoontlik
om die enkele storie te bespreek, sonder om mag aan te raak. Daar's ’n Igbo woord, waaroor ek dink as ek
oor die wêreld se magstrukture dink, en dis: "nkali." Dis ’n selfstandige naamword, losweg vertaal:
"om groter as ’n ander te wees". Soos ons ekonomiese en politieke wêrelde, word stories ook bepaal
deur die beginsel van nkali: Hoe hulle vertel word, wie hulle vertel, wanneer hulle vertel word,
hoeveel vertel word, is alles regtig afhanklik van mag. Mag is die vermoë
om ’n ander se storie te vertel én om dit die beslissende storie
van dié persoon te maak. Die Palestynse digter
Mourid Barghouti skryf dat as jy ’n volk wil ontvreem, is die eenvoudigste manier om hulle storie te begin vertel
met "tweedens." Begin die storie met
die Amerikaanse inboorlinge se pyle, en nié met die Britte se aankoms nie, en dan het jy ’n heeltemal ander storie. Begin met
die mislukking van die Afrikastaat, en nié met die koloniale skepping
van die Afrikastaat nie, en dan het jy ’n heeltemal ander storie. Ek't onlangs by ’n universiteit gepraat waar ’n student vir my gesê het
dat dit só jammer is dat Nigeriese mans mishandelaars is, soos die vaderfiguur in my roman. Ek't vir hom gesê dat ek pas die roman
"American Psycho" gelees het — (Gelag) — en dat dit só jammer is dat jong Amerikaners reeksmoordenaars is. (Gelag) (Applous) Natuurlik het ek dit effens geïrriteerd gesê. (Gelag) Maar ek sou nooit kon dink dat 'n reeksmoordenaar-karakter
in 'n roman álle Amerikaners verteenwoordig nie. Dis nie omdat ek ’n beter mens
as daai student is nie, maar eerder as gevolg van
Amerika se kulturele en ekonomiese mag, dat ek baie stories oor Amerika het. Ek het al Tyler en Updike
en Steinbeck en Gaitskill gelees. Ek't nie ’n enkele storie
oor Amerika gehad nie. Toe ek gehoor het dat daar van skrywers verwag word
om ongelukkige kinderjare te gehad het om suksesvol te wees, het ek begin dink hoe ek aaklige goed
wat my ouers my aangedoen het, kon opmaak. (Gelag) Maar om die waarheid te sê,
het ek gelukkige kinderjare gehad, vol lag en liefde, in ’n baie hegte gesin. Maar ek't ook oupas gehad
wat in vlugtelingkampe dood is. My nefie Polle is dood
omdat hy nie voldoende gesondheidsorg kon kry nie. Een van my beste maats, Okoloma,
is dood in ’n vliegtuigongeluk omdat ons brandweerwaens
nie water gehad het nie. Ek't onder verdrukkende
militêre regerings grootgeword wat opvoeding van waarde beroof het, sodat my ouers soms
nie hulle salarisse betaal is nie. En so, as ’n kind, het ek gesien
hoe konfyt van die ontbyttafel af verdwyn, toe margarien, toe het brood te duur geword, toe is melk op rantsoen gesit. En meeste van alles,
het ’n soort genormaliseerde politieke vrees ons lewens binnegedring. Al hierdie stories maak my wie ek is. Maar om slegs op
die negatiewe stories aan te dring, is om my ervaring af te plat en baie van die stories wat my gevorm het,
oor die hoof te sien. Die enkele storie skep stereotipes, en die probleem met stereotipes,
is nie dat hulle onwaar is nie, maar dat hulle onvolledig is. Hulle maak een storie die enigste storie. Ja, Afrika ís ’n vasteland vol katastrofes: Grotes, soos
die skokkende verkragtings in Kongo en ontmoedigendes, soos dat 5000 mense vir een vakante pos
in Nigerië aansoek doen. Maar daar is onrampspoedige stories en dis nét so belangrik om hulle te noem. Ek't nog altyd gedink dis onmoontlik om ordentlik aan ’n plek of persoon
mee te doen sonder om in ál die stories
van daardie plek of persoon te deel. Die gevolg van die enkele storie is dat dit mense van waardigheid beroof. Dit maak erkenning
van ons gelyke menslikheid moeilik. Dit beklemtoon ons verskille
eerder as ons ooreenkomste. So wat as ek voor my Meksikaanse toer albei kante van die
immigrasiedebat gevolg het, die Amerikaanse en die Meksikaanse? Wat as my ma vir ons gesê het dat Fide se familie arm
én hardwerkend is? Wat as ons
’n Afrika-televisienetwerk gehad het wat uiteenlopende Afrikastories
regoor die wêreld uitsaai? Wat die Nigeriese skrywer Chinua Achebe
"’n balans van stories" noem. Wat as my kamermaat kon weet
van my Nigeriese uitgewer, Muhtar Bakare, ’n merkwaardige man
wat sy werk by ’n bank gelos het om sy droom te volg
en ’n uitgewery te begin? Die staande opvatting was
dat Nigeriërs nie literatuur lees nie. Hy't verskil. Hy't gedink
mense wat kon lees, sou lees, mits literatuur bekostigbaar
en beskikbaar was. Kort na hy my eerste roman uitgegee het, was ek by ’n TV-ateljee
in Lagos vir ’n onderhoud, en ’n vrou wat as ’n bode daar gewerk het,
het vir my kom sê: "Ek't baie van jou roman gehou,
behalwe die einde. "Jy moet nou ’n vervolgstuk skryf,
en wat moet gebeur is …" (Gelag) En sy't toe vir my vertel
wat om in die vervolgstuk te skryf. Ek was nie net bekoor nie,
ek was ook diep geroer. Hier was ’n vrou,
soos baie gewone Nigeriërs, wat nie veronderstel was
om 'n leser te wees nie. Sy't nie net die boek gelees nie, sy't dit ook aangeneem en geregverdig gevoel
in haar instruksies vir die vervolgstuk. So wat as my kamermaat kon weet
van my vriendin Funmi Iyanda, ’n vreeslose Lagos TV-aanbieder, vasberade om die stories
wat ons verkies om te vergeet, te vertel? Wat as my kamermaat kon weet van die hartoperasie wat verlede week
in ’n Lagos-hospitaal uitgevoer is? Wat as sy kon weet van hedendaagse Nigeriese musiek, talentvolle mense wat sing in Engels en Pidgin
en Igbo en Joroeba en Ijo, terwyl hulle invloede van Jay-Z en Fela tot Bob Marley en hulle oupas meng. Wat as sy kon weet van die vroulike prokureur wat onlangs in Nigerië hof toe is
om ’n belaglike wet te betwis wat vereis dat vroue
hulle mans se toestemming kry voor hulle hul paspoorte hernu? Was as sy kon weet van Nollywood, vol innoverende mense wat films maak
ten spyte van groot tegniese uitdagings, sulke gewilde films, perfekte voorbeelde van Nigeriërs
wat verbruik wat hulle self skep? Wat as sy kon weet
van my vooruitstrewende haarvlegter, met haar eie nuwe besigheid
vir die verkoop van haarverlengings? Of van die miljoene Nigeriërs
wat besighede begin wat soms misluk, maar wat aanhou om hulle ambisie te kweek? Elke keer wat ek tuis is, sien ek ook meeste Nigeriërs
se bronne van irritasie: ons mislukte infrastruktuur,
ons mislukte regering, maar ek sien ook
die ongelooflike taaiheid van mense wat floreer
ten spyte van die regering, eerder as gevolg daarvan. Ek bied elke somer
skryfwerkswinkels in Lagos aan, en dis indrukwekkend
hoeveel mense aansoek doen, hoeveel gretig is om te skryf, om stories te vertel. Ek en my Nigeriese uitgewer
het onlangs die Farafina Trust — sonder winsbejag — begin, en ons het groot drome van biblioteke bou en bestaande biblioteke opknap en boeke verskaf aan staatskole wat niks in hulle biblioteke het nie, en ook van tonne werkswinkels organiseer, in lees en skryf, vir al die mense wat gretig is
om ons baie stories te vertel. Stories maak saak. Baie stories maak saak. Stories is al gebruik
om te ontvreem en te belaster, maar stories kan ook gebruik word
om te bemagtig en te vermenslik. Stories kan ’n volk se waardigheid breek, maar stories kan ook
hulle gebreekte waardigheid heelmaak. Die Amerikaanse skrywer
Alice Walker het geskryf oor haar suiderlingfamilielede
wat na die Noorde getrek het. Oor hoe sy hulle aan ’n boek oor die suiderlinglewe
wat hulle agtergelaat het, voorgestel het: "Hulle't rondgesit, die boek self gelees, "geluister na hoe ek die boek lees, "en ’n paradys van soorte is herwin." Ek wil graag met hierdie gedagte afsluit: Dat wanneer ons die enkele storie verwerp, wanneer ons besef
dat daar nooit ’n enkele storie oor enige plek is nie, herwin ons ’n soort paradys. Dankie. (Applous)

21 Comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *